Deursoek hierdie blog

Dinsdag 05 Januarie 2016

Waarom meeste rokers sukkel om deur wilskrag alleen op te hou rook


Dit is die begin van ʼn nuwe jaar en die tyd van die jaar het die meeste mense een of ander voorneme om iets nuuts aan te pak soos om te begin oefening (lees môre se blog), ʼn slegte gewoonte te los (soos om op te hou rook) of om ʼn lewensverandering te maak (soos om gesonder te eet en te leef).

In my ervaring met baie rokers wat ek gehelp het om dié slegte gewoonte finaal die nekslag toe te dien, kom dit gedurig uit dat die meeste van hulle al minstens een keer in hul lewe, soms ʼn paar keer, probeer het om met suiwer wilskrag alleen op te hou rook.

Die rede hoekom hulle in my kantoor opeindig, is dat nié een van die ander metodes vir hulle gewerk het nie, onder andere wilskrag alleen.

Ter wille van eerlikheid, laat ek wel noem dat ek soms oud-rokers ontmoet wat wel opgehou rook het deur wilskrag alleen, geloofsoortuiging of dalk een van die ander metodes.

Maar dit bly soos ʼn paal bo water staan dat die meerderheid rokers egter nié daarin slaag nie en daarom by my kom aanklop vir hulp. Baie rokers voel soms so moedeloos aangesien niks vir hulle werk nie, dat hulle begin aanvaar dat hulle nooit van dié las in hul lewens sal kan ontslae raak nie.

Dít is egter nie die waarheid nie.

Met behulp van ʼn kragtige instrument soos hipnose, wat saam met my program, die nodige ondersteuning en ʼn bekwame en gekwalifiseerde Ophou Rook-gids ingespan word, sal die roker finaal die gewoonte die  nekslag toedien.

In die volgende paar blogs oor Ophou Rook gaan ek aandag gee aan die redes waarom wilskrag alleen nié genoegsaam is om jou slegte gewoonte te los nie.

1. Die rol van wilskrag in ons lewens
As deel van ons sielsdimensie het die mens ʼn wil. Die wil is ʼn uiters belangrike deel van ons funksionering want dit onderskei ons van diere en stel ons in staat om besluite te kan neem, projekte (of doelwitte) aan te pak en deur te voer en om ons lewens te bestuur. Die wil funksioneer egter nie in isolasie met die res van jou sisteem nie. Dit is maar deel van die geheel en daarom, al neem jy dikwels ʼn kognitiewe wilsbesluit om beheer te neem oor jou lewe of oor ʼn slegte gewoonte (of om ʼn nuwe goeie gewoonte te begin), is die probleem in die uitvoering daarvan. Volgende keer meer oor die verskillende fasette van ons bestaanssisteem wat op die wil inwerk.

2. Gebruik wilskrag as die eerste stap
Dit egter gesê, is dit byna onmoontlik om te dink dat jy ʼn slegte gewoonte soos rook gaan los en nuwe gesonde gewoontes gaan kweek sonder ʼn wilsbesluit. Die eerste stap na genesing, oorwinning en ʼn beter lewe begin met ʼn kognitiewe besluit van die wil. Daar is baie faktore wat hiertoe kan bydra. Voordat die gewoonte self en die gevolge daarvan nie vir jou slegter of pynliker is as om te verander nie, gaan jy moeilik ʼn finale wilsbesluit neem om op te hou rook. Byvoorbeeld, as die gesondheidsrisiko om aan te hou rook so skrikwekkend is dat jy besef dié slag is dit nie net mooi praatjies van die dokter nie, maar jou lewe hang aan ʼn draadjie as jy nié ophou rook nie, is die gevolge om aan te hou pynliker as om deur die proses te gaan en op te hou rook. Dan raak dit baie makliker om die wilsbesluit te neem en te sê nou gaan ek ophou en dan na maniere te begin soek om dit die mees koseffektiefste en doeltreffendste te doen. Wilskrag bly die eerste stap in die besluit om op te hou.

3. Bly gemotiveerd deur wilskrag
Nadat jy opgehou rook het en nuwe positiewe en gesonde gewoontes aangekweek het, is jou wilskrag ʼn baie belangrike deel van die proses om by jou besluit te bly. Dít, saam met ander funksies van jou sisteem (later meer hieroor), sal jy gemotiveerd bly om jou nuwe gesonde lewenswyse te handhaaf en deur te sien. Soos wat die positiewe resultate nadat jy opgehou rook het al meer na vore kom, word dit al hoe makliker om by jou besluit te bly, die leuens te ontbloot en die versoekinge in die toekoms te weerstaan.

Wilskrag is dus ʼn belangrike deel van jou proses om op te hou rook. Dit is egter net een aspek van die proses aangesien die gewoonte op ʼn baie dieper en ander vlakke inwerk.


Volgende week kyk ek verder waar die wil in die totale prentjie inpas as  ʼn deel van die Ophou Rook-program om van jou ʼn lewenslange nie-roker te maak.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking